Dr. Elizma van der Smit clinical psychologist                      

Therapy for Individuals, Families and Couples                                                                                                     

       The Time Has Come!!! It is time to be better!!

 

DISSIPLINE VIR KINDERS

 

Deur Elizma van der Smit

 


1.  Wat gee my as ouer gesag oor my kind? 

 


Die Bybel (Kol. 3:20 ) gee ons gesag oor ons kinders en dus ook om reëls te maak, negatiewe gedrag te straf en om positiewe gedrag te beloon.

 

Ons as ouers moet altyd onthou dat ons nie ons kind se vriend is nie, maar ‘n gesagsfiguur met baie spesifieke verantwoordelikhede.  Ons moet hierdie verantwoordelikhede dra en toepas aangesien my kind in my sorg toevertrou is en nog nie genoegsaam fisies, emosioneel en intellektueel ontwikkel is om himself behoorlik te kan reguleer nie. Daar is 4 areas waar die ouer altyd die gesag moet dra:

 

Om my kind se veiligheid te verseker ten alle tye

 

Om my kind se gesondheid eerste te stel

 

Om te verseker my kind se intellektuele, sosiale en fisiese ontwikkeling vind plaas

 


Voorbereiding van my kind vir volwassenheid

 

Die wet verplig ons as ouers ook om aan die bogenoemde basiese vereistes te voldoen.  Volgens die Familiereg het ouers die wettige gesag oor hul kinders se gedrag en sosiale lewens.  Ouers mag en moet hul kinders straf en dissiplineer op toepaslike wyses

 

 

2.  Wat is dissipline?

 

 

Die definisie van dissipline :  Dit is die oefen en leer volgens sekere reëls en regulasies.  Om “in te dril”.  Dit is om te straf om ten einde gehoorsaamheid, orde en beheer te verseker.

 

 

Dissipline gaan nie daaroor om konflik met jou kind te skep of om in woede teenoor jou kind uit te vaar nie.  Wanneer dissipline reg toegepas word, gaan dit nie daaroor om jou kind te probeer beheer nie maar eerder om jou kind the WYS hoe om sy/haar EIE gedrag te beheer.  Dit gaan nie oor die straf wat ‘n kind kry as hy iets verkeerd gedoen nie het, maar dit gaan oor die stel van standaarde en gevolge sodat hulle kan leer om hulself te dissiplineer.

 


“n kind wat geleer word wat reg en verkeers is het ‘n goeie basis waarvolgens hy sy eie gedrag sal kan evalueer”.

 


3.  Hoekoms is dissipline belangrik?

 


Dissipline is nie net goed vir kinders nie, dis ook noodsaaklik vir hul geluk en emosionele gesondheid.  Dissipine is net so broodnodig soos kos en liefde vir die gesonde ontwikkeling van jou kind.  Sonder dissipline het ons kinders nie die nodige vaardighede om die uitdagings van die lewe te kan hanteer nie.

 


In teenstelling met wat sommige mense dalk mag dink, is kinders sonder dissipline nie gelukkig nie en veroorsaak dit dikwels dat hul kinders vol woede en verbittering is.  ‘n Ongedissiplineerde kind is onaangename geselskap en dis vir hul moeilik om vriende te maak

 


Veral vir skoolgaande kinders is dit belangrik om deur middel van dissipline te leer om hul gedrag en negatiewe impulse te beheer – sodoende sal hul die storm en drang tienerjare beter kan reguleer.

 


Sonder dissipline sal ons kinders sukkel om:

 

Hulself te beheer

 

Hul sal nie hul ouers en outoriteitsfigure respekteer nie

 

Hul sal nie weet wat toepaslike gedrag is nie

 

Hul sal selfsugtig wees en nie aangename geselskap vir ander wees nie

 

Hul sal nie oor noodsaaklike sosiale vaardighede beskik wat nodig is vir die maak van vriende soos bv empatie, geduld en die wete hoe om te deel

 

Hul sal baie meer geneig wees om negatiewe gedrag te toon wat vir hulself en ander mense gevaarlik kan wees

 

Hul sal ongelukkig wees

 

Hul sal nie verantwoordelik wees vir hul foute nie en daarom “nooit verkeerd” wees nie en ook nie pogings aanwend om dit reg te stel nie.

 


4.  ‘n Basiese resep vir die toepassing van dissipline

 


Kinders vereis struktuur en voorspelbare reëls, maar bowenal vereis hul aandag.  Ons ouers het miskien nie baie geweet van skool en wêreldsgoed nie, maar hul het hul kinders geken. 

 


Hou ook gerus die volgende ingedagte:

 

Deel jou ervarings.  ‘n Wyse ouer deel sy wysheid en vertel vir kinders van belangrike sosiale vaardighede wat hul nodig het om meer vestandig te wees.

 

Onderskei tussen dissipline en straf.  Dit is nie dieselfde ding nie. Straf kan deel uitmaak van dissipline, maar laasgenoemde het ‘n baie hoër doel voor oë en is meer ingestel op die langtermyn.  Straf wys vir jou wat verkeerd is, maar nie wat reg is nie!

 


Tree self op soos jy wil hê jou kinders moet optree.   Kinders leer die verskil tussen reg en verkeerd deur hul ouers dop te hou.  As ouers jok, geweldadig is of vloek, sal die kinders dit ook doen.  Asjy nooit betyds kan wees nie, moenie van jou kind verwag om stiptelik te wees nie.  Moenie sê:  “maak soos ek sê en nie soos ek doen nie”.  Dade spreek baie harder as woorde, modelleer dus die gedrag wat jy wil hê jou kinders moet toon.

 


Kyk na jou taalgbruik en optrede.  Hoe praat jy met jou kind?  Is jy ‘n tronkbewaarder of ‘n ouer?  Goeie dissipline sluit nooit dreigemente en fisiese geweld in nie.  Dit sluit ook nie beledigings en vernedering in nie.

 


Luister na jou kinders.  Probeer gerus die oefening om jou kinders om ‘n tafel te sit en te vra:  “wat maak jou gelukkig?”  en “wat maak jou hartseer?”.  Doen dit gereeld en kyk wat gebeur!

 


Beloon goeie gedrag.  Die beste beloning wat ‘n kind kan ontvang is om geprys te word.  Om positiewe gedrag te beloon werk vir sommige kinders selfs beter as om die negatiewe gedrag te versterk.  Byvoorbeeld ‘n kind wat mors, prys hom wanneer hy nie gemors het nie in plaas daarvan om hom altyd te straf as hy gemors het.

 


Die “punishment should fit the crime”.  Straf moet in ooreenstemming met die oortreding uitgedeel word.  Dit help nie om die kind twee maande te “hok” oor hy een aand laat gaan slaap het nie. 

 


Stel beperkinge.  Kinders het beperkinge en reels nodig om hul te beskerm en veilig te laat voel.  

 

1)  Stel jou rëel wat ouderdomstoepaslik is en jou verwagting baie duidelik omskryf en

 

2) Stel ‘n duidelike gevolg indien die reël nie nagekom word nie. 

 

3) Wees konsekwent en hou by jou reël en gekose straf en voer dit deur indien nodig. 

 

4) Herhaal proses totdat kind dit baasraak.

 


Maak ouer kinders deel van die dissipline-proses.  Ouer kinders kan gerus ingetrek word in die vasstel van hul eie reëls asook vir die straf indien hierdie selfopgelegde reëls nie nagekom word nie, byvoorbeeld “hoe laat gaan ek tuis wees en wat gaan gebeur as ek nie is nie”.  Jy behou natuurlik altyd die laaste sê, maar dit help om hul selfverantwoordelikheid te bevorder.

 


Wees konsekwent.  Maak nie saak watte vorm van dissipline jy verkies nie, dit moet egter konsekwent toegepas word anders verloor jou kind agting en respek vir jou en jou metode van dissipline.  As die bedtoegaantyd 8 uur is in die week, is dit 8 uur.  Byt vas ongeag jou kinders se geween en gekners van tande.  Moenie hul uitbarstings valideer deur in te gee nie.  Moenie bang wees om jou kind se liefde te verloor as jy nie ingee nie, inteendeel sal hul jou meer respekteer as jy NIE ingee nie.  Onthou egter konsekwentheid beteken nie dat jy nie buigsaam kan wees wanneer die omstandighede (soos ouderdom) verander nie.

 


Stel die reëls op ‘n positiewe wyse.  Byvoorbeeld werk “sit jou klere in die wasgoedmandjie” beter as “moenie jou klere op die grond gooi nie”.  Te veel “jy mag nie’s” veroorsaak dikwels woede en verbittering.  Wees egter altyd ferm en konsekwent.  Indien ‘n kind oortree het, waak daarteen om nie die kind te veroordeel nie, maar wel die gedrag.

 


Gee keuses.  Jy kan ook jou kinders dissiplineer deur vir hul keuses te gee.  Wil hul voor of na ete bad?  Wanneer die kinders dan die tyd kies, maak hul ook die “commitment” om die taak te voltooi en dit is wat die meeste saakmaak.  So kan jy ook hul ‘n keuses bied van wat om te eet, solank die opsies almal gesond is.  Kinders wie keuses gegun word, voel dat hul meer gerespekteer word en leer daarby ook dat hul die gevolge van hul eie keuses moet aanvaar.

 


5.  As ouers verskil oor dissipline.

 


Ouerskap stem ooreen met enige vennootskap.  Elke persoon bring na die tafel wat hy langs die pad geleer het.  Ons is ook maar almal geneig om te maak “soos ons ouers gemaak het”.  Hierdie verskille kan baie konflik en argumente veroorsaak.

 


Hier is ‘n paar aanbevelings oor die hantering van hierdie verskille:

 

Kry ‘n teken wat julle sal gebruik om beide van jul te herhinner dat ‘n gesprek te “warm” raak en gestaak moet word.  Wanneer die kodewoord gegee word, hou op en neem jou tyd om af te koel voordat die verskil bespreek word (nie voor die kinders nie).

 


Tydens hierdie gesprek, probeer om jou maat se uitgangspunt te verstaan en weet dat dis in sy/haar verlede geanker lê.  Indien julle onseker is, probeer uitvind “wat is die beste vir ons kind”.  Ons eie ouers het verskillende bestuurstyle gehad en ons het iets by beide geleer.  Dit geld ook vir jul situasie nou.

 


Probeer ook om jul reëls in 3 areas te verdeel.  Dit sal julle help om jul gevoelens oor die reëls te organiseer sodat julle dit beter kan vestaan en kan akkommodeer:

 

Wit – dit is reëls  wat buigbaar is soos byvoorbeeld etenstye of wat die kinders aantrek.

 

Grys- dit is reels wat bietjie onderhandeling nodig het soos byvoorbeeld die hoeveelheid sakgeld en hoe laat hul tuis moet wees.

 

Swart – dit is reels wat ononderhandelbaar is, byvoorbeeld jy mag nie jok of vloek nie.

 


Probeer om, ten spyte van verskille, ‘n verenigde front voor te hou wanneer dit by dissipline kom.  Dit sal verseker dat julle nie teen mekaar afgespeel word nie.

 

Wees voorbereid op gedragsprobleme wat dikwels vantoepassing is op hul normale ontwikkelingsfase bv moenie geskok wees as jou peuter skielik jou gesag begin uitdaag nie of jou voorskoolse kind vloermoere begin gooi nie.

 

Skep jul eie gesin-reëlboek.  Besluit saam wat is aanvaarbaar en wat is nie en omskryf dit baie duidelik.

 


Probeer om nie alle konflik te vermy nie.  Klein argumente wat vreedsaam voor die kinders opgelos kan word, wys hul dat mens kan verskil al is jy lief vir iemand en dit leer hul ook sommer hoe om dit uit te sorteer.

 


Moenie vasgevang word in jou eie verlede nie.  Indien jul sukkel om ‘n werkbare plan saam te stel, raadpleeg ‘n kenner en kry hulp.

 


6.  Dissipline in hersaamgestelde gesinne

 


Hou ingedagte dat die hersaamgestelde gesin anders funksioneer en het daarom sy eie dinamiek en reëls.  Baie van ons is geneig om te verwag dat ons hersaamgestelde gesin die dinamiek van ‘n natuurlike, intakte gesinsisteem moet volg. Ons het ‘n lang pad om te stap voordat ons daar kan uitkom.

 


Net soos wat ‘n liggaam “vreemde” weefsel of organe kan verwerp, net so kan ons enigiets “verwerp” wat vir ons vreemd is, en sonder dat ons dit bedoel ‘n passiewe of aggressiewe stiefouer word.

 


Ons voel dikwels verskeur tussen ons kinders en ons man/vrou en daarby kan ons ook maklik bedreig voel agv my maat se natuurlike ingsteldheid op sy kind!  Beide die ouers of maat kan voel dat die aander een die huweliksmaat te tyd, geld en energie opeet!

 


Indien moontlik, moet dissipline deur die biologiese ouer toegepas word.

 

Pas al die bogenoemde aanbevelings toe.

 


7.  Wanneer is my humeur ’n probleem?

 


‘n Ouer wie se humeur nie in beheer is nie veroorsaak geweldige skade aan ‘n kind se siel.  Dit laat ons kinders met vernedering, vrees, depressie en dikwels net nog meer woede.  Kinders wat in huise grootword waarin daar onbeheerbare woede is, leer dat die liefde seermaak.  Dit stel hul bloot aan ‘n leeftyd van gebrekkige sekuriteit, pyn en mislukking in verhoudings.  Onbeheerbare woede veroorsaak ‘n verskrikking vir klein kinders se wêreldjies.  Hul leer dat die wêreld ‘n bangmaakplek is waarin mense wat veronderstel is om jou lief te hê, dieselfde persone is waarteen jy die meeste beskerm moet word.  Dit is ‘n bitter slegte les vir ‘n kind om te leer.

 

 

 

Veral as ‘n ouer die een oomblik woedend is en die volgende oomblik liefdevol , veroorsaak dit geweldige onsekerheid binne die kind.  Al maak jy verskoning, vat dit steeds nie die pyn weg wat jy veroorsaak het nie.  Daarby leer jy jou kind dat verskonings niks beteken nie, want more doen jy dit weer.  Die kind voel dan ook diwels skuldig aangesien hul kwaad word vir hul ouer – selfs al het hul alle reg om kwaad te wees!  Dit veroorsaak dan dat die kind of die woede op himself of op ander mense uithaal.

 

 

 

Woede wat binne gehou word veroorsaak depressive, afhanklikheid en selfhaat.  Woede wat uitwaarts gerig word veroorsaak generasies vol geweld.  Liefde en geweld is ‘n slegte kombinasie vir almal van ons.  Gewoonlik kom ons woede (passief of aggressief) dan ook dus van ons ouers af.  Ons moet stop om verskoning vir onsself of ons maats te maak, onbeheerbare woede moet aangespreek word.

 

.

 

Jou woede kan ‘n probleem wees indien die volgende voorkom:

 

 

 

As jouself of iemand anders seermaak

 

Verbale mishandeling

 

Skree

 

Goed rondgooi of breek

 

Vloek en beledigings

 

Wanneer ek nie kan vergewe nie en wraak beplan

 

Wanneer ek pille, drank of ander verslawings gebruik om te kalmeer

 

Wanneer ek my woede op diere of “swakker” mense uithaal

 

Wanneer ek ander oormatig kritiseer

 

Wanneer ek myself oormatig kritiseer

 

Wanneer ek ander blameer vir my swak gedrag

 

As ek stilstuipe kry

 

As ek sarkasma of negatiewe humor gebruik om ander ten a te kom

 

As ek my woede onderdruk

 

As ek myself onttrek en konflik vermy

 

As ek oor elke klein dingetjie baklei